Afrikaanse letterkunde - die rykdom van 'n tussenwêreld
|
|
|
| Academiejaar: | 2008-2009 | | Code opleidingsonderdeel: | FLWTLKEU100 | | Semester: | 1e semester | | Studiepunten: | 4 | | Uren Studietijd: | 112 | | Uren theorie: | 30,00 | | Uren praktijk: | | | Uren andere: | | | Deeltijds programma: | | | Titularis(sen) | Heilna Du Plooy Luc Renders
| | Info semesterexamen: | examen in het 1ste semester | | Info contractrestrictie: | |
1. Aanvangscompetenties (begintermen) *Algemene competenties
Aangesien hierdie kursus 'n inleidende kursus is, word geen ander kompetensie as 'n basiese literêre kennis en die vermoë om literêre tekste te kan lees, verwag nie. Daar sal wel van studente verwag word om selfstudie te doen en vir die lesings voor te berei wat impliseer dat selfstandige en kritiese denke voordelig sal wees. Die teoretiese kompetensie wat nodig is vir die kursus sal in die lesings geïntegreer word.
*Volgtijdelijkheid
2. Eindcompetenties (eindtermen)
Aan die einde van die kursus sal studente kennis en insig hê in die belangrikste tendense in die Afrikaanse literatuur sedert die begin van die twintigste eeu. Hulle sal vertroud wees met die inhoud en poëtiese styl van die werk van enkele belangrike Afrikaanse digters asook met betrokkenheid in die Afrikaanse prosa. Studente sal na voltooiing van die kursus 'n goeie begrip hê van sowel die intertekstuele en interkulturele aard van die Afrikaanse literatuur as die noue band tussen literatuur en gemeenskap in Suid-Afrika.
3. Inhoud
In hierdie kursus word die Afrikaanse literatuur behandel as 'n veelkantige produk van groepe mense wat hulle ruimtelik, kultureel en ideologies in Afrika bevind, maar wat sowel die invloede van 'n Europese verlede as 'n band met die wêreldliteratuur vertoon. Die literatuur wat in so 'n tussengebied, met uiteenlopende raakvlakke, ontstaan en ontwikkel, is onderworpe aan soveel verskillende invloede en trekkragte en reageer op soveel verskillende maniere op al die prikkels dat dit nie anders kan as om tematies en inhoudelik uiteenlopende en boeiende tekste te huisves nie. Om 'n aanduiding te gee van die geskiedenis sowel as van heersende tendense word die historiese ontwikkeling van die Afrikaanse poësie in voëlvlug in oënskou geneem, daarna word daar nader gefokus op sleuteltekste van enkele belangrike digters en ten slotte word daar aandag gegee aan die verskynsel van betrokkenheid ("engagement") in die Afrikaanse prosa. · Die geskiedenis van die Afrikaanse poësie In hierdie deel van die kursus sal daar uiters oorsigtelik aangedui word watter belangrike bakens in die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie onderskei kan word, watter historiese, ideologiese en estetiese faktore die inhoud en styl van die tekste beïnvloed het en watter tendense tans prominent figureer. Die doel van hierdie inleiding is om 'n agtergrond en raamwerk te verskaf waarbinne spesifieke bundels en tekste in groter detail bestudeer kan word. (Ongeveer 4 uur.) · 'n Studie van geselekteerde Afrikaanse poësietekste Hierdie afdeling sal die kern van die kursus vorm. Geselekteerde tekste sal intertekstueel benader word om die fokus te laat val op die saambestaan van verskillende kulturele en estetiese tradisies en die vorme en inhoude wat daaruit ontwikkel. Dit gaan dus om die versmeltings wat in die Afrikaanse tekste plaasgevind het in die koloniale en post-koloniale tydperke, meer spesifiek om die spanning tussen die ruimtelike en ideologiese konteks van Afrika enersyds en die Europese erfenis andersyds wat onteenseglik steeds 'n belangrike faktor in die dinamiek van die Afrikaanse literatuur is en wat inhoudelik en struktureel in bykans alle tekste 'n rol speel. Die volgende tekste sal bestudeer word: Tristia van N.P.van Wyk Louw, Komas uit 'n bamboesstok van D.J. Opperman, geselekteerde gedigte van T.T.Cloete, Die burg van hertog Bloubaard van H.J. Pieterse, Die Windvanger van Breyten Breytenbach en Kleur kom nooit alleen nie van Antjie Krog. By elke digter se werk sal 'n invalshoek gebruik word wat die kenmerke van die tekste of die samehang van die bundel sowel as die plek van die digter binne die Afrikaanse poëtiese tradisie die beste belig. Die tekste is gekies op grond van gehalte en tematiese en estetiese verskeidenheid en daar sal eksemplaries te werk gegaan word om die omvang van die studiemateriaal haalbaar te hou. (Ongeveer 16 uur.) · Betrokkenheid in die Afrikaanse prosa In die derde deel van die kursus sal diverse aspekte van betrokkenheid ("engagement") in die Afrikaanse prosa aan die hand van geselekteerde kontemporêre tekste belig word. Die ontwikkeling van die Afrikaanse prosa is, net soos in die geval van die poësie, nou verweef met die lotgevalle van die gemeenskappe waaruit dit voortkom. Aan die begin van die twintigste eeu verwoord skrywers die trauma en verlies van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) asook die politieke ideale en ambisies van die Afrikanervolk. Na die verkiesingsoorwinning van die Nasionale Party in 1948, word apartheidswetgewing geleidelik strenger ingevoer en reeds vanaf die vyftiger- en sestigerjare, maar veral in sewentigerjare, kom die Afrikaanse skrywers openlik in verset. Skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Adam Small, John Miles, Elsa Joubert, Etienne van Heerden en Antjie Krog het almal 'n rol gespeel in die stryd teen apartheid deur hulle openlik te beywer vir 'n oop, nie-rassistiese samelewing. Met die demokratiese verkiesing in 1994 kom die ANC aan bewind en 'n fase van politieke, ekonomiese en kulturele verandering en vernuwing word betree. Die blankes verloor bepaalde voorregte en Afrikaans as taal kom ook onder druk. Die utopie van die reënboognasie word egter belemmer deur die kompleksiteit van die werklikhede van multikulturaliteit, die vigs-epidemie, misdaad, werkloosheid en die onvermoë om armoede hok te slaan. Dit is dus te verwagte dat maatskaplike en politieke probleme van hierdie aard en omvang in die literatuur weerspieël sal word, vandaar dat die sterk betrokke verhouding tussen literatuur en gemeenskap 'n wesenseienskap van die Afrikaanse prosa is. (Ongeveer 10 uur.)
4. Werkvormen Contactmomenten: HoorcollegesSeminaries
5. Evaluatievormen Schriftelijk werkstuk: zonder mondelinge toelichting
6. Noodzakelijk studiemateriaal
Noodsaaklike bronne soos literatuurgeskiedenisse en skrywersprofiele sal in die biblioteek beskikbaar wees. Ander studiemateriaal sal elektronies beskikbaar gestel word.
7. Facultatief studiemateriaal
8. Studiebegeleiding
Afsprake kan met die dosent gemaak word.
laatste aanpassing: laatste aanpassing: 08/01/2009 11:58 hanna.goossens
|
|
|